Grootste bulteler by Aldamskool

Deur ANDRIES GOUWS

Amerika se grootste bulteler wat meer as 1 000 bulle per jaar verkoop is een van die internasionale sprekers wat op vanjaar se Aldamskool vir Vleisbeesboere gaan optree wat van 19 tot 21 Oktober by die Aldamoord in die Vrystaat gehou word.

Mnr. Lee Leachman sal naas die lesings wat hy aanbied tydens die skool beskikbaar wees vir private gesprekke oor sy besondere benadering tot en welslae met teling en die bydrae wat hy in Amerika gelewer het om genetika te gebruik om. sagte, geurige beesvleis op die verbruiker se tafel te sit en om meer wins te maak d.m.v. kuddedoeltreffendheid.

In die negentigerjare het hy ook ‘n vader-nageslagsproef gedoen om die winsgewendheid van bulle met verskillende genetiese eienskappe te meet en hy het gevind dat die verskil tot $100 per kop kan wees. Leachman het in Oktober 2003 die Leachman Cattle of Colorado-onderneming gevestig wat hoofsaaklik teelmateriaal verskaf en sy pligte behels die bepaling van die genetiese mikpunte, finansiële beplanning en oorhoofse bestuur van die onderneming.

Dié onderneming word wêreldwyd gesien as die leier ten opsigte van objektiewe seleksiemaatstawwe. Hy is ook ‘n baanbreker met die bepaling van die winsgewendheid van die interaksie van eienskappe soos koeigrootte, vrugbaarheid, groei, voerdoeltreffendheid en karkaseienskappe.

Naas Leachman sal die bekende prof. Roger Hunsley van Amerika besoekers leer hoe om te kyk wat lê onder ‘n bees se vel. Dit word geïllustreer met die evaluasie van lewende diere en die karkasse van dieselfde diere nadat hulle geslag is. Die wat vantevore “Doc” Hunsley gehoor het sal ‘n lesing kan bywoon oor dierevoeding met praktiese voorbeelde van rumens van beeste met probleme.

Van die voorste veekundiges, voedingskundiges en beeskenners van SA sal ook tydens die skool optree. Die koste om die skool by te woon, beloop R4500 (indien vroeg registreer) wat huisvesting insluit. Mense wat voor Julie bespreek kry ‘n afslag van R500

Besprekings kan gedoen word by Charmaine Alberts Epos: palberts@telkomsa.net of 051 8211783